Monday, January 11, 2010

my beste note

Ek bly verstom oor hoe musiek my omslaan.


Daar is net soveel note om uit te kies wanneer mens musiek maak, maar die kombinasies daarvan is oneindig. Dis onmoontlik om te meet wat die kapasiteit van musiek is en dit blaas my elke keer as ek 'n nuwe harmonie hoor. Sjoe die Here is darem slim. Soveel mense skryf oor musiek en praat oor musiek, maar ek sukkel om die regte woorde te kry. Dis vir my moeilik om te beskryf hoe dit my oorweldig, daar is seker nie woorde nie.


Ek dink aan 'n verduideliking wat ek een keer gehoor het. Dit het gegaan oor die verskillende maniere wat ons die Here se grootheid ervaar. Sommige mense sien dit in die natuur, ander ervaar die Here in mense se dade. Sommiges hou van baie kennis en ander van logika. Party mense ervaar Sy grootheid wanneer hulle kilometers ver hardloop en voel hoe goed hul liggaam perfek ontwerp is. Ek sien dit, nee hoor dit, in musiek.


Ek is nie 'n musikale genius nie, van keys en mineur 7des kan jy my nog baie vertel. Maar daar is iets wat in my gees gebeur as sekere note by mekaar kom. Dit voel vir my al die kere wat ek NIE die Here verstaan nie maak dan sin. Waar die woorde van liedjies vir meeste mense vrede bring is dit die note vir my. En as my woorde opraak en ek weet nie meer wat om vir Hom te sê nie, is al wat ek kan gee my beste note.


No comments:

Post a Comment